San Sebastian

Almal het lekker geslaap! Almal was opgewonde oor ons uitstappie na San Sebastian waar dit blykbaar net oor eet gaan!

Ons het eers so tussen 11 en 12 daarheen gery omdat ons uit ons ervaring in Barcelona geleer het… Dit was darem nie so warm nie en ons het die twee nuwe stootkarretjies gehad en ook die drasak, tablet, oorfone, inkleurboek en peuselhappies. Gewapen vir die dag!

Ons het ingery en parkering gesoek in die area van Gros, waar ons beplan het om die aand Pintxos te eet. Pintxos of Pinchos is soos Tapas in die Basque land. ń Pintxo is eintlik ń tandestokkie wat gebruik word om die kosdingetjie aanmekaar te hou. Maar later meer daaroor.

Parkering gevind in ń vol parkeerarea met ń baie lae dak. Gesukkel om te parkeer met die groot bus en smal parkeerareas, maar my pa het hom goed van sy taak gekwyt.

Toe stad toe. Die stootkarretjies was al klaar beter, en hulle was baie gelukkiger om daarin te bly! Ons het al langs die strand geloop, op pad na die ou stad. By die brug waar ons oor die rivier moes loop, het ons eers roomys gekry, elkeen hul eie een! Selfs Elgin! Dit was, in my opinie, baie baie lekker roomys of gelato (daar is ń verskil).

Daar is ń ou Fenikular of bergtreintjie waarvan ek gehoor het, wat jou by ń koppie opneem vir ń uitsig oor die hele San Sebastian. Ons was bietjie slimmer, en het ń bus daarheen geneem! Dit is blykbaar een van die oudste Fenikulars in Europa en het ook so gevoel! Krakerig, en baie steil, al by die berg op. Bo was ń asemrowende uitsig. Reg rondom, oor die see en oor die hele mooie stad, met groen Pyrenese berge in die agtergrond. En wolkies en groen. En blou en en en…

Daar was ook ń pretpark bo. Ek, Jacques, Dian en Anán het op so bootjie dingetjie gegaan wat op water ry in so klein sirkel, baie teleurstellend. Anán en Jacques en Dian het op die stampkarretjies gery, en Anán het dit baie geniet, maar Elgin was baie onsteld elke keer as die karretjies stamp. Toe is ons weer af, want ons wou na die ou stad gaan kyk. Weer af met die Fenikular, en toe met ń bus al die pad tot by die ou stad. San Sebastian is een van die mooiste, skoonste stede waar ek nog was. ń Fransman naby Bordeaux het eenkeer baie neus in die lug neergepraat op San Sebastian en hoe dit vuil is en daar baie skelms is. Dit het ons eintlik baie aan Bordeaux laat dink, vir my nog mooier, met baie bome en vriendelike mense! Daar is ń mooi straat in die middel van die ou stad waar mens afloop soos die La Rambla, maar nog mooier! Ons het by ń bar bier gekoop, en ek het oorkant die bar die mooiste sandale gekoop! Dit is mos herfs hier, so al hulle somergoed is afgemerk.

Daarna het ons afgestap tot by ń mooi fontein en toe is ons honger en lus vir die lang verwagte Pintxos. Ons het besluit om in Gros Pintxos te eet, want dis waar die locals Pintxos eet. Dit werk so: daar is oral in die strate Pintxo Bars. Dis ń bar, met klomp pintxos op die toonbank uitgestal. Mens drink iets en bestel een pintxo by ń bar, en dan beweeg jy na die volgende plek, drink weer iets en beweeg dan aan. Soos ń pub crawl, maar ń pintxo crawl. Dit was ń heerlike ervaring, die mense, die kos, die atmosfeer! Anán en Elgin (het ons) het tussendeur in ń baie cool parkie gespeel, en toe gaan ons verder.

Toe ons klaar maak was ons baie lus vir kaaskoek, en ons het eintlik die dag vergeet om die befaamde kaaskoek by ń spesifieke restaurant in San Sebastian, La Viña, te gaan eet. Ons onthou toe dat een van die Pintxo bars ń kaaskoek uitgestal het en loop toe al die pad terug. Hulle was eintlik besig om toe te maak, maar wou ons graag help, en ons bestel toe 3 stukke, en raai wat, dit is toe dieselfde as La Viña s’n: burnt cheescake. En dit was flipen lekker. Ek’s seker ons almal gaan daai kaaskoek onthou. Dit was al na 22.00, en Anán en Elgin was nogsteeds wakker. Ons is terug na die bus, en het baie moeg en baie versadig, maar baie tevrede terug gery huis toe. Koffie en bed. En dood geslaap.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s